OUDTSHOORN NUUS - Rangers FC, 'n sokkerklub in Dysselsdorp, het onlangs splinternuwe wedstrydklere as skenkings van Hollywoodbets in Voortrekkerstraat, ontvang.
Rangers is aanvanklik in 1944 gestig om jong spelers te help om hul talent te ontwikkel en om kinders van die strate af te hou.
Vandag behoort vyf spanne, waarvan een 'n vrouesokkerspan, aan dié klub.
Frederick Prins, die voorsitter van die klub, sê dit is vir hulle 'n groot voorreg om so 'n skenking te ontvang.
"Rangers se A-span het nuwe broeke, sokkies en truie vir die spelers ontvang. Die spelers werk hard en verdien dit om in die uitrustings te speel. Dit dien ook as motivering vir die spelers om nog beter te speel as wat hulle altyd het," het hy gesê.
Rangers se A-span het die afgelope Saterdag hul wedstryd teen Super Strikers van Dysselsdorp 3-2 gewen en Sondag het hul ook hul wedstryd teen Atletico 3-2 gewen.
Links voor is Frederick Prins, voorsitter van Rangers, saam met die span.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'