NASIONALE NUUS - Daar gaan vanjaar twee dinge anders wees in die verkiesing.
Die eerste is dat mens net sal kan stem by die stempunt waar jy geregistreer is, tensy jy vroeër spesiaal suksesvol aansoek gedoen het om op 'n ander plek te stem.
Daar is twee redes waarom kiesers net kan stem waar hulle geregistreer is. Die eerste is dat die stembriewe nie opraak nie en die tweede is dat niemand meer as een keer stem nie.
Die tweede verandering is meer ingewikkeld. Pleks van twee stembriewe (een provinsiaal, een nasionaal) soos in die verlede, kry elke kieser hierdie keer drie stembriewe.
Die provinsiale stembrief bly soos in die verlede – dit bepaal hoe die 43 setels in die Wes-Kaapse Wetgewer verdeel word, proporsioneel tot die stemme ontvang deur elke party.
Die verskil kom daarin dat daar twee stembriewe is wat die samestelling van die 400 setels in die Nasionale Vergadering sal bepaal. Hulle staan onderskeidelik bekend as die nasionale stembrief en die streekstembrief.
Die nasionale stembrief se uitslag sal die samestelling van 200 van die 400 setels bepaal, en werk soos in die verlede: al die land se kiesers kry dieselfde nasionale stembrief en die setels word proporsioneel toegeken aan partye gemeet aan die stemme behaal.
Die verskil kom by die nuwe streekstembrief. Die doelwit van hierdie stembrief is om aan provinsies proporsionele verteenwoordiging, gemeet aan hul bevolkingsgrootte, te gee in die Nasionale Vergadering, en ook om onafhanklike kandidate te akkommodeer.
Die streekstembrief sal dus bestaan uit al die partye wat deelneem aan die nasionale verkiesing, plus die onafhanklike kandidate uit die betrokke provinsie waar die stem uitgebring word. Daarmee word die ander 200 setels van die Nasionale Vergadering dus gevul.
'n Mens kan al jou stemme vir een party gee, of jy kan vir verskillende partye en individue stem op elke stembrief. Mens mag egter net een keuse per stembrief maak, anders word jou stem nie getel nie – dan is dit 'n bedorwe stembrief.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’