Update
OUDTSHOORN POLITIEKNUUS - Streekverteenwoordigers van vier politieke partye het Woensdagoggend op Oudtshoorn gesukkel om hulle stemme bo die jouery van toeskouers hoorbaar te maak.
'n Lewendige debat is tussen 07:00 en 09:00 deur RSG vanaf die KKNK se RSG-verhoog uitgesaai. Die vier politieke leiers van die Suid-Kaap-streek wat aan die debat deelgeneem het, was Jaco Londt (DA), Basil Petrus (SAC/GOOD), Jovan Bruinders (ANC) en Dawid Kamfer (Icosa).
RSG-omroepers Anita Visser en Justin Kennerley het hulle hande vol gehad om die gehoor, wat hoofsaaklik uit DA-, Good- en Icosa-ondersteuners bestaan het, in toom te hou. Die grootste knelpunte wat onder bespreking was, was die toekenning van groot kontrakte, behuising en korrupsie. Die sprekers sowel as lede van die gehoor het beskuldigings van korrupsie, onbevoegdheid en onregmatige bevoordeling links en regs na mekaar geslinger.
Jaco Londt het op aantygings van Dawid Kamfer dat slegs wit kontrakteurs aangestel word om paaie te bou, gereageer deur te sê dat kontrakte volgens spesifieke riglyne aan tenderaars toegestaan word met geen voorkeur aan enige bevolkingsgroep nie.
Die gesprek oor behuising het hewige reaksie ontlok met lede van Icosa wat die DA daarvan beskuldig het dat hulle slegs aan spesifieke mense huise toeken. Londt het gesê huise word volgens nasionale spesifieke riglyne toegeken.
Die deelnemers aan Woensdagoggend se politieke debat. Van links is: Justin Kennerley (RSG), Jovan Bruinders (ANC), Anita Visser (RSG), Jaco Londt (DA) en Basil Petrus.
Hy het ook daarop klem gelê dat die DA nie slegs huise bou nie, maar ook verseker dat die mense aan wie huise gegee word, hulle eie titelaktes ontvang. Volgens hom is die Wes-Kaap die enigste provinsie wat soveel klem daarop lê dat mense titelaktes moet kry. Hierop het Jovan Bruinders reageer deur te noem dat die DA nou skielik, kort voor 'n tussenverkiesing in Hessequa titelaktes oorhandig het. Londt het teruggekp deur te vra waarom die ANC nie daardie titelaktes reeds afgehandel het toe hulle tien jaar gelede in die provinsie aan bewind was nie.
Bruinders was verder van mening dat die DA se rekord vir die voorsiening van behuising nie so suksesvol is soos wat hulle voorgee nie. Volgens hom moes die DA in die 2017/2018 boekjaar in Mosselbaai en George elk R14 miljoen se behuisingsgeld aan die nasionale tesourie terugbetaal wat nie op behuising spandeer is nie.
Terwyl die sprekers van die ANC, DA en Icosa, mekaar beskuldig het, het Basil Petrus gesê dat Good se prioriteit die uitwissing van korrupsie op alle vlakke is. Dit is veral Dawid Kamfer wat erg onder Bruinders deurgeloop het toe dié hom daarvan beskuldig het dat hy korrup is. 'n Lid van die gehoor, Ben van Wyk, het sy misnoeë teenoor die res van die gehoor sowel as die sprekers te kenne gegee oor die persoonlike aanvalle en aantygings wat heen en weer geslinger word. "Ek het gehoop om 'n debat te hoor waar elke politieke party vergeet van die probleme en vir my sê wat hulle bied om my te oortuig om vir hulle te stem."
Petrus het na die debat verduidelik dat sy party, die South African Civics (SAC) slegs aan plaaslike verkiesings gaan deelneem en dat hy en sy ondersteuners dus vir vanjaar se verkiesing op nasionale en provinsiale vlak hulle stem aan Patricia de Lille se Good-party toesê.
Lees 'n vorige artikel: Lewendige politieke debat by KKNK
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'