Update
OUDTSHOORN VERKIESINGSNUUS - Die kiesers van Oudtshoorn het hulle deel by die stembus gedoen om die Wes-Kaap blou te hou.
Danksy 'n nuusspan van Group Editors wat sedert Maandag in Kaapstad is, kon daar reeds gisteroggend bevestig word dat 50,17% van Oudtshoorn se kiesers Woensdag vir die DA op provinsiale vlak gestem het.
Die ANC het 33.36% van Oudtshoorn se stemme getrek terwyl die VF+ slegs 4,34% steun geniet het. GOOD, Icosa en EFF het tussen 2% en 3% van die stemme gekry.
Dit is interessant dat Oudtshoorn se kiesers hulle stemme op nasionale vlak anders aangewend het. Op nasionale vlak het 46% van die streek se kiesers vir die DA gestem, 35% vir die ANC en 7% vir die VF+.
Volgens 'n senior lid van die DA wat nie-amptelik kommentaar gelewer het, skryf hy die verskil daaraan toe dat sommige kiesers moontlik teleurgesteld is in die DA se vertoning elders in die land en daarom nasionaal meer steun aan die VF+ gegee het.
"Maar dit lyk asof hulle tog besef dat die Wes-Kaap goed bestuur word en dus DA moet bly," het hy gesê.
DA-ondersteuner pas nadat sy in Bridgton gestem het. Foto's: Hannes Visser
Die leier van die DA in die Wes-Kaap, Bonginkosi Madikkizela, het gister by die OVK-sentrum in Kaapstad gesê die uitslag van dorpe soos Oudtshoorn en Prins Albert is te danke aan goeie DA leierskap van die kiesafdelingshoofde. Teen 12:30 gister was die verwagting dat die DA gemaklik in die Wes-Kaapse stoel sal bly met 'n steun van 53% of 54%.
As mens die Oudtshoorn persentasies van 2014 met 2019 vergelyk is dit eerstens opvallend dat daar Woensdag omtrent 4000 minder kiesers gestem het as in 2014. In 2014 was daar 32 482 stemme en Woensdag 28 123. Terwyl die DA, ANC en ICOSA se stempersentasie laer is as in 2014 het die VF+ en EFF 'n verhoging in steun getoon.
Terwyl sommige kiesers verkies het om hulle partypolitiek vir hulself te hou het andere soos hierdie DA en ANC ondersteuners, geen moeite ontsien om hulle partykleure te wys nie. Foto: Liezl van Niekerk.
Wat die persentasies aanbetref lyk die vergelyking tussen vanjaar en 2014 se verkiesing vir Oudtshoorn op provinsiale vlak so:
2019 | 2014 | |
DA | 50.17% | 52,87% |
ANC | 33,36% | 35,98% |
VF+ | 4,34% | 1.03% |
Icosa | 2,87% | 5,82% |
EFF | 2,41% | 1,09% |
GOOD | 2.95% | - |
"Hallo oom Cyril, is jy daar?" 'n Seun loer deur 'n taxi-venster tydens die stemdag in Bridgton.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'