OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Klaarstroom wat haar man vermoor het, en die vriendin van haar seun met kookwater verbrand het, is Woensdag 11 Desember in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van 13 jaar opgelê.
Sanna Pieterse (51) is aan moord en aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof versoek om haar tot 12 jaar vir moord en vyf jaar vir die aanranding te vonnis omdat sy geen berou toon nie, en bedoel het om haar man dood te steek.
Streeklanddros Ntsoki Moni het haar getuienis verwerp en bevind dat die staat sy saak bo redelike twyfel bewys het.
Pieterse het volgens 'n staatsgetuie, Jacomyn Claassen, die betrokke aand aan haar gesê dat sy haar man gaan doodmaak.
Pieterse het getuig dat sy haar man slegs eenkeer, in sy arm, gesteek het, maar die mediese verslag dui aan dat daar ses steekwonde aan sy liggaam was.
Zelda September, die vriendin van Pieterse se seun, moes veloorplantings kry en skryf in haar slagofferverslag dat sy baie kwaad is vir Pieterse en haar nie weer wil sien nie.
Die hof het wel beslis dat wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die minimum vonnis van vyftien jaar vir moord af te wyk.
Pieterse is tot tien jaar vir moord en drie jaar vir aanranding om ernstig te beseer gevonnis, asook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’