OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ‘n vrou van Klaarstroom, wat van moord op haar man aangekla word, en aanranding van haar seun se meisie, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere getuienis tot 13 November uitgestel.
Sanna Pieterse (48) het volgens die staat op 17 Junie 2022 haar man, Manus Pieterse (49), een keer in die bors gesteek nadat sy vroeër gedreig het dat sy hom gaan doodmaak.
Sy word ook daarvan aangekla dat sy kookwater op Zelda September (28) gegooi het.
‘n Buurvrou, Jacomyn Claassen, het getuig dat Pieterse met ‘n mes in haar bors by haar huis na die oorledene kom soek het, en gewaarsku het dat sy hom gaan doodsteek.
Sy het later verneem dat Manus Pieterse dood is.
September het getuig dat die beskuldigde op 17 Julie 2022, sonder om iets te sê, haar met kookwater gegooi het. Sy moes ‘n week in die hospitaal deurbring na ‘n veloorplanting.
Volgens Pieterse het sy September net weggestoot waarna sy teen die tafel waarop die stofie met kookwater gestaan het geval het. Hulle was ook almal onder die invloed van alkohol. Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’