OUDTSHOORN NUUS - 'n Vrou van Blomnek, De Rust, wat haar voormalige werkgewer met 'n kapmes oor sy kop geslaan, en aan poging tot moord skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof gevangenisstraf van vyf jaar opgelê.
Drieka Botha (65) het erken dat sy verkeerd opgetree en gestraf moet word.
Volgens haar het sy die oggend van 10 Oktober 2021 na die woning van Schalk van der Sand (76) in Hoopstraat, De Rust, gegaan omdat hy haar glo nog 'n R1 000 geskuld het vir werk wat sy as huishulp gelewer het.
Toe Van der Sand haar meedeel dat sy moet wag totdat hy sy staatstoelae ontvang, het sy kwaad geword en hom 'n paar keer met 'n kapmes geslaan. Hy moes vir sy beserings in die hospitaal behandel word.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat ouderdom nie 'n waarborg is om uit die tronk te bly nie, iets wat selfs die land se vorige president nie kon vryspring nie. Sy is aan 'n ernstige misdaad skuldig bevind.
Volgens getuienis van haar dogter behoort die panga aan hulle, wat beteken dat sy beplan het om die bejaarde Van der Sand daarmee aan te val.
Botha se regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om in ag te neem dat sy nie meer jonk is nie, en direkte tronkstraf haar sal breek. Hy het voorgestel dat sy op korrektiewe toesig geplaas word. Sy het ook van die begin haar samewerking gegee en skuldig gepleit.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê dat dit nie nodig was vir Botha om so op te tree nie en dat 'n opgeskorte vonnis nie die regte boodskap sal uitstuur nie. Die hof het bevind dat hoewel sy vorige veroordelings het waarvan die laaste in 1993, sy vir alle praktiese redes 'n eerste oortreder is.
Sy is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis, en ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’