OUDTSHOORN NUUS - “Vroue moenie dink dat hulle in die hof anders as mans behandel moet word vir die geweldsmisdade wat hulle pleeg nie. Dit het nou al ‘n tendens geword dat vroue skerp voorwerpe gryp om hul mans of saamleefmaats dood te steek. Dit moet gestop word.”
So het streeklanddros Daniel Boks verlede week gesê toe hy Chrissie Marnewick (49) van Kammanassie, wat haar man doodgesteek en aan strafbare manslag skuldig bevind is, tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis het.
Marnewick het haar man, Apollis (37), die aand van 22 Julie 2023 met ‘n mes in die bors gesteek nadat hy haar glo gevloek en twee klappe gegee het.
Volgens haar het hulle die dag weer saam gedrink en was sy die aand besig om kos te maak toe sy kwaad geword, ‘n mes gegryp, en haar man gesteek het. Nadat sy die kos klaargemaak het, het sy gaan kyk wat haar man doen en gesien dat hy dood is.
Marnewick se regshulpprokureur, Brian Carelse, het die hof vir ‘n vonnis van korrektiewe toesig gevra omdat sy ’n goeie ondersteuningstelsel het.
Staatsaanklaer Nadia Arnolds, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat vroue te maklik die reg in eie hande neem en dan in die hof kom sê hulle word mishandel, terwyl daar soveel maniere is om beskerm te word.
Streeklanddros Daniel Boks het Marnewick behoorlik die leviete voorgelees en gesê vroue is van mening dat hulle in die hof sagter behandel moet word en nie tronk toe gestuur kan word nie. Al hoe meer vroue is deesdae in die howe vir gesinsgeweld waarvoor minimum vonnisse voorgeskryf word.
Twee van die agt jaar tronkstraf is opgeskort, vir effektiewe tronkstraf van ses jaar en Marnewick is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’