OUDTSHOORN NUUS - Lede van die gemeenskap en munisipale wetstoepassingsbeamptes het vanmiddag, 10 April, vinnig opgetree nadat ’n man na bewering ’n vrou van haar beursie beroof het.
Volgens die slagoffer het die man haar vir ’n saamrygeleentheid gevra.
“Hy het so mooi gevra en ek het hom jammer gekry,” het sy gesê.
Sy het vertel dat sy by die verkeerslig in Voortrekkerweg op die hoek van Hoogstraat gestop het toe die man glo haar beursie gegryp en weggehardloop het.
“Ek kon nie agter hom aanry nie, want ek was nog by die rooilig, maar mense wat verbygestap het, het gehoor hoe ek skree hy moet stop en hulle het agter hom aangehardloop,” het sy gesê.
Die man is kort daarna voor die Seppie Greeff-gebou aangekeer, waarna munisipale wetstoepassingsbeamptes hom in hegtenis geneem en weggeneem het.
Volgens die slagoffer is sy van voorneme om ’n klag by die polisie in te dien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’