OUDTSHOORN NUUS - Polisiebeamptes aan die Tuinroete het die afgelope naweek sedert Vrydag 7 Junie, 316 verdagtes agter tralies gesit as deel van misdaadbekampingsoperasies.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die operasies die sluiting van dwelm- en ongelisensieerde drankafsetpunte, stop- en deursoekoperasies, voertuigkontrolepunte asook hoëdigtheidpatrollies in misdaadbrandpuntgebiede ingesluit.
"Die geïntegreerde magte het 80 verdagtes in hegtenis geneem vir dwelmverwante oortredings, 46 vir die besit van gevaarlike wapens, een vir die onwettige besit van ammunisie, 20 ongedokumenteerde persone en die ander vir geringe oortredings. Die meeste van die arrestasies is in George, Oudtshoorn, Pacaltsdorp en Knysna uitgevoer."
Die verdagtes sal die week in die hof verskyn.
Spies sê hierdie arrestasies en beslagleggings vorm deel van gesamentlike pogings deur die polisie om gemeenskappe te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’