OUDTSHOORN NUUS - 'n 64-jarige man van Oudtshoorn met 22 vorige veroordelings, wat in 1995 lewenslange gevangenisstraf vir verkragting opgelê is, en op parool was toe hy in 2023 'n vrou met 'n mes in haar hand gesteek het, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot ses jaar gevangenisstraf gevonnis vir aanranding met die doel om ernstig te beseer.
Gabriel Meyer het tereggestaan op aanklag van poging tot moord, maar het skuldig gepleit op die alternatiewe klagte.
Hy het erken dat hy op 4 Oktober 2023 die 58-jarige Leonie Slabbert, eienaar van 'n naaldwerkwinkel, in haar hand gesteek het omdat hy ontevrede was oor hoe sy hom behandel het.
Volgens die klaer het sy met haar hande gekeer toe hy na haar nek gesteek het, en het sy daarin geslaag om weg te kom.
Sy leef in vrees en kan nie meer die werk doen wat sy gedoen het nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê dit is duidelik dat Meyer 'n gevaar vir vroue inhou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’