OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen vyf verdagtes, wat van inbraak met die doel om te steel en diefstal aangekla word, is in die Oudtshoorn-streekhof as gevolg van ’n baie vol hofprogram vir die res van die jaar, vir verhoor tot 2026 uitgestel.
Vier van die verdagtes is Malawiese burgers.
Clinton Bridges (26), Roberts Pinta (30), Patrick Joseph (37), Robert Nine (41), en Gift Kwanda (26) word daarvan aangekla dat hulle tussen 18 en 20 Januarie vanjaar by ’n Pep Stores in Oudtshoorn ingebreek en 150 selfone ter waarde van R135 000, handsakke en klerasie ter waarde van R4 000 en ’n kluis ter waarde van R13 000 gesteel het.
Borgtog is in die landdroshof aan die vyf geweier omdat hulle waarskynlik kan vlug en nie kon bewys dat dit in belang van geregtigheid is om borgtog aan hulle toe te staan nie.
Die saak is bestem om deur streeklanddros Asanda Shasha van Beaufort-Wes aangehoor te word, en uitgestel tot 12 Februarie 2026.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’