OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van Oudtshoorn, wat van diefstal van koperkabels aangekla is, maar skuldig bevind is aan poging tot diefstal, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot 12 maande gevangenisstraf gevonnis.
Gerald Esau (41) het erken dat hy op 20 Oktober 2023 verby werkers van Karoo Valley Farms gestap het en toe 250 m koperkabels wou vat.
Hy het saam met ander weggehardloop toe hulle die polisie gewaar en is later in hegtenis geneem waar hy tussen huise weggekruip het.
Volgens die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het die plaaseienaar, George Schneigansz, hom meegedeel dat hy in 2023 altesaam 106 sake van diefstal by die polisie aangemeld het en groot verliese ly.
Volgens Schneigansz word heinings, elektriese kabels en besproeiingstoerusting gereeld gesteel en ly plaaswerkers ook daaronder omdat hulle sonder elektrisiteit sit.
Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat direkte gevangenisstraf die enigste gepaste vonnis vir Esau sal wees omdat hy nie ’n eerste oortreder is nie.
Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’