OUDTSHOORN - 'n Gesin van Hopeville, Oudtshoorn, sit in sak en as nadat hul informele struktuur aan die brand gesteek is.
Dié voorval het Woensdag 22 Januarie plaasgevind.
Daphné Davids en haar twee jongste kinders, Liam (19) en Shayne (10), se vorige struktuur het ook tot op die grond afgebrand, ook vermoedelik weens brandstigting.
Die gesin moet nou vir die tweede keer ál hul besittings vervang.
Davids se oudste seun is na bewering op die toneel vir die brand in hegtenis geneem. Daar word beweer dat hy ook vir die eerste brand verantwoordelik was.
Een van die inwoners van Hopeville het gesê dat hulle nou hul voet neergesit het en aangedring het dat Davids 'n saak teen haar oudste seun maak, omdat hulle bang is dat die hele woongebied volgende keer kan afbrand.
Een van die vroue wat verkies om anoniem te bly, noem dat daar baie klein kindertjies is wat in Hopeville woon. "Wat as 'n gaskan ontplof? Iemand kan dood wees volgende keer," het sy gesê.
Volgens die inwoners voel hulle nie veilig met hom in die woongebied nie.
Die polisie en speurders was op die toneel.
Inwoners van Hopeville het dadelik na die voorval ingespring om die gesin by te staan deur vir hulle 'n tydelike heenkome te gee in 'n ander struktuur. Die gesin het egter al hul klere, linne en huisgoed in die brand verloor.
Oudtshoorn Courant het 'n navraag rakende die voorval aan sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gerig. "Speurders van Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n saak van brandstigting."
Volgens Spies word daar beweer dat die struktuur aan die brand gesteek is terwyl die eienaar by die werk was. "'n 25-jarige man is in hegtenis geneem op aanklag van brandstigting."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’