LADISMITH NUUS - 'n Agtjarige seun van Sakkiesbaai, Ladismith het verlede week meer as net skyfies in sy R1 pakkie skyfies gevind.
Volgens die seun se moeder, Liezl Isaacs, het haar seun verlede Dinsdag, 5 November, die skyfies by 'n spazawinkel in hul straat gekoop.
Haar vermoedens is bevestig toe nie net een, maar twee amper-pienk pilletjies in die pakkie gevind is, vertel die moeder aan die koerant.
Sy het onmiddellik die polisie gekontak.
Kaptein FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Hy noem dat die Ladismith-polisie 'n ongeïdentifiseerde middel in die pakkie skyfies gevind het.
Volgens hom het soortgelyke voorvalle in ander dele van die provinsie voorgekom wat ook ondersoek word. "Laboratorium-toetse sal gedoen word om uit te vind wat die pille bevat."
Isaacs doen 'n ernstige beroep op ouers om versigtig te wees wat hul kinders by spazawinkels koop.
"Jul kinders se gesondheid en veiligheid kom eerste."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’