OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen ’n 52-jarige polisiebeampte van Oudtshoorn, wat van verkragting aangekla word, is verlede Donderdag in die addisionele streekhof in Oudtshoorn na die getuienis van die klaagster vir verdere verhoor tot 23 Februarie 2026 uitgestel.
Tobias May word daarvan aangekla dat hy op 3 Julie 2022 naby Dysselsdorp ’n 31-jarige vrou verkrag het.
Hy pleit onskuldig.
Die getuienis van die klaagster is op versoek van die staat in camera aangehoor ten spyte van beswaar deur die verdediging.
May se regsverteenwoordiger, Lourens Swanepoel, het die hof versoek om die aansoek te weier omdat die vrou tydens die troue van die beskuldigde in die kerk opgespring en die beweerde verkragting aan die groot klok gehang het.
Hy wou weet waarom sy dan nie in ’n ope hof kan getuig nie.
Die saak dien voor streeklanddros Asanda Shasha van Beaufort-Wes wat die verhoor as gevolg van ’n vol hofprogram vir die res van die jaar tot 2026 uitgestel het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’