Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - ’n 31-jarige man het gister, 24 Maart, sy eerste verskyning in die Ladismith-landdroshof gehad na hy met dwelms van ongeveer R120 000 in hegtenis geneem is.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het lede van die Ladismith-polisie, gereageer op inligting oor ’n besending dwelms wat vanaf Oudtshoorn onderweg was.
"Die span het die man onderskep toe hy ’n oop stuk veld oorgesteek het, hulle het hom deursoek en dwelms in sy besit gevind.
Die polisie het beslag gelê op 299 Mandrax-tablette, 417 bankies tik en 263,85 gram tik. Hy staan tereg op aanklag van handel in dwelms."
Die beskuldigde is in aanhouding.
In ’n onverwante aangeleentheid het Dysselsdorp-polisielede inligting ontvang van ’n ongelisensieerde vuurwapen wat in ’n dam laat val is. Polisieduikers is ontbied en ’n pistool sonder ’n reeksnommer en vyf rondes ammunisie is uit die dam gehaal. Die oorsprong van die vuurwapen word ondersoek.
Volgens Spies vorm hierdie pogings deel van deurlopende polisie-operasies om gemeenskappe te beskerm.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’