OUDTSHOORN NUUS - Oudtshoorn-polisie ondersoek 'n saak van strafbare manslag na aanleiding van 'n voorval wat Vrydagaand, 14 Augustus, naby die begraafplaas in Voortrekkerweg plaasgevind het.
Volgens luitenant-kolonel Malcolm Pojie, polisiewoordvoerder, toon die voorlopige ondersoek dat die motorfiets van agter in 'n voertuig vasgery het waarna twee persone op die motorfiets op die teeroppervlak beland het. Een persoon is oorlede terwyl die ander beserings opgedoen het.
"Dit word verder beweer dat 'n voertuig vanuit die teenoorgestelde rigting die persoon wat omgekom het, op die toneel getref het."
Pojie het bevestig dat die voertuig en bestuurder wel opgespoor is en dat verklarings bekom is.
"Sodra die ondersoek afgehandel is, sal die dossier aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) vir beslissing voorgelê word. Die oorsaak van die ongeluk en diegene betrokke maak deel uit van die ondersoek."
Enige persoon met inligting rakende die voorval word versoek on die speur-bevelvoerder by 082 522 1726 of Stop Misdaad by 08600 10111 te kontak.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’