OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen nege ouers van Grootkraal (UCC) Primêr in die Oudtshoorn-distrik, is in die streekhof vir vier dae se verhoor in Oktober 2025 uitgestel nadat vertoë wat hulle tot die senior staatsaanklaer gerig het onsuksesvol was.
Die nege beskuldigdes, Johannes Lottering (36), Randall May (42), Blaudwine Fortuin (31), Marion Witbooi (34), Michelle May (38), Johnny van Niekerk (52), Lena May (44). Alicia Bruintjies (35) en Cathleen Gelant (27) staan tereg op altesaam agt aanklagte van menseroof, opsetlike saakbeskadiging, aanranding, intimidasie en openbare geweld.
Die saak spruit uit 'n voorval op 7 April 2021 toe hulle onder andere buitebande op die pad na die Kango-grotte aan die brand gesteek, en 'n onderwyser, Glen Snyman en die plaaseienaar, Jean Botha, aangerand en verhoed het om die skoolperseel te verlaat. Botha se voertuig is ook glo met klippe bestook.
Die staat voer aan dat beskuldigdes met gemeenskaplike doel opgetree het.
Die saak sal deur streeklanddros Mazibuku van Beaufort-Wes op 6, 8, 9 en 10 Oktober 2025 aangehoor word.
Al nege beskuldigdes is op waarskuwing vrygelaat.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’