Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Vereniging van staatsamptenare (PSA) het met groot kommer kennis geneem van die onlangse gewelddadige voorval by die Oudtshoorn Korrektiewe Sentrum in die Wes-Kaap, waarin ’n gevangene dood is en vier korrektiewe amptenare beseer is. Die PSA is ’n vakbond wat staatsamptenare in Suid-Afrika verteenwoordig.
Volgens inligting wat Oudtshoorn Courant bekom het, is die fassiliteit tans onder inperking. Die besonderhede rondom die inperking kon nie bevestig word nie.
Dié voorval het verlede Donderdag, 7 Augustus, tydens roetine-oopsluitprosedures plaasgevind. Dit het gevolg op ’n deursoekingsoperasie van die vorige dag, waartydens gevangenes weerstand gebied het teen die konfiskering van onwettige items soos selfone en dwelms.
Sersant Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die Oudtshoorn-polisie is besig met 'n geregtelike doodsondersoek sowel as sake van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike leed te pleeg.
"Hierdie ondersoeke hou verband met die dood van 'n 38-jarige man en aanranding op amptenare."
Geen sluier word egter op hierdie stadium gelig oor wat presies verlede week gebeur het of wat die aard van die bewaarders se beserings is nie.
Volgens die PSA se verklaring het die nasionale kommissaris van die departement korrektiewe dienste (DKD) bevestig dat die aanval vooraf beplan is.
Die PSA sê hulle veroordeel ten sterkste en herhaal hul langstaande bekommernis oor die veiligheid en welstand van korrektiewe amptenare.
“Die vakbond het reeds in Junie vanjaar tydens ’n bedingingsvergadering met die DKD die kwessie van erge personeeltekorte aangeroer. Volgens die PSA verhoog hierdie tekorte die risiko’s vir amptenare, veral tydens hoërisiko-operasies soos deursoekingsoperasies.”
Volgens die PSA worstel die DKD tans met ’n kritieke tekort aan personeel, hoofsaaklik weens onvoldoende befondsing vanaf Nasionale Tesourie en ’n gebrek aan voldoende fasiliteite om nuwe korrektiewe beamptes op te lei.
“Die PSA beplan om formeel aan die minister van finansies te skryf om die dringende prioritisering van fondse te versoek, sodat die DKD nuwe voorstelinie-personeel kan werf en oplei.”
Volgens die vakbond is die huidige personeelvlakke onvolhoubaar en plaas dit enorme druk op bestaande personeel, wat lei tot uitbranding, verhoogde sekuriteitsrisiko’s en swak rehabilitasie-uitkomste.
“As die krisis nie dringend aangespreek word nie, sal die DKD se vermoë om oorbevolking te bestuur, geweld te voorkom en die herintegrasie van oortreders in die samelewing te ondersteun, verder verswak.”
Die PSA beklemtoon dat ’n veilige en rehabiliterende korrektiewe stelsel nie ’n luukse is nie, maar ’n noodsaaklikheid vir ’n regverdige en veilige samelewing. Korrektiewe amptenare moet behoorlik toegerus en ondersteun word om hul pligte veilig en doeltreffend te kan uitvoer. Die PSA doen ’n beroep op die DKD om dringend sekuriteitsprotokolle te herevalueer en te versterk, veral tydens hoërisiko-operasies.
“Daarbenewens moet kritieke vakatures so gou moontlik gevul word, en dit is noodsaaklik dat sielkundige ondersteuning en trauma-berading aan die beseerde amptenare en hul families gebied word. Die PSA staan in solidariteit met die beseerdes en hul gesinne, en bly daartoe verbind om vir verbeterde veiligheidstoestande en die beskerming van DKD-personeel regoor Suid-Afrika te veg.”
Vorige berig:
Vier bewaarders in Oudtshoorn-tronk gesteek
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’