OUDTSHOORN NUUS - 'n Voormalige boekhouer van 'n Oudtshoornse prokureursfirma is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis nadat sy op 237 aanklagte van diefstal skuldig bevind is.
Carolina Wolmarans (51) het op al die aanklagte skuldig gepleit. Die misdrywe is tussen 2 Maart 2023 en 27 September 2024 gepleeg.
Wolmarans het volgens getuienis die firma se bankkaart gebruik om tydens aankope wat sy namens die firma gedoen het, ook items vir haarself aan te koop en kontant te onttrek.
Omdat sy as boekhouer verantwoordelik was vir die firma se finansies, was sy in besit van die bankkaart van die besig-heidsrekening.
Dirk du Toit, een van die firma se direkteure, het aan die hof gesê die diefstal het 'n groot impak op die onderneming se kontantvloei gehad.
Volgens Du Toit het die firma Wolmarans vertrou.
"Prokureursfirmas is anders as ander besighede," het hy gesê.
"Die besigheid het 'n trust- en besigheidsrekening en dit is van laasgenoemde rekening waarvan Wolmarans die geld gesteel het."
Hy het aangevoer dat die misdrywe vooraf beplan is en dat 'n opgeskorte vonnis of korrektiewe toesig die verkeerde boodskap sou uitstuur.
Wolmarans se regsverteenwoordiger, Margaretha Aucamp van die plaaslike Regshulpraad, het die hof versoek om haar skuldigpleit, eerste oortrederstatus en die feit dat sy die meeste van die geld terugbetaal het, asook haar berou in ag behoort te neem.
Staatsaanklaer Hyron Goulding het egter aangevoer dat Wolmarans oor 'n lang tydperk ernstige misdrywe gepleeg het.
"Dit was nie eenmalig nie en die beskuldigde het oorgenoeg tyd gehad om daarmee op te hou."
"Dit was nie 'n kwessie van nood nie, maar pure gierigheid. Die beskuldigde het luukshede gekoop en wou bokant haar inkomste lewe."
Goulding het die hof om 'n vonnis van tussen vyf en tien jaar gevangenisstraf gevra. Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging beklemtoon dat die saak nie bloot oor die terugbetaling van die geld gaan nie, maar oor Wolmarans se gedrag.
Volgens die landdros sou dit 'n "gevaarlike boodskap" uitstuur indien iemand van 'n werkgewer kan steel en later bloot die geld terugbetaal sonder om gestraf te word.
Sy kan ná die uitdiening van 'n sesde van haar vonnis om parool aansoek doen. Sy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapenlisensie te bekom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’