OUDTSHOORN NUUS - 'n Boer van Buffelsjachtsfontein in die Calitzdorp-distrik, wat sy vrou (57) die aand van 26 Junie 2021 ernstig aangerand het, is verlede Donderdag in die Oudtshoorn-streekhof 'n opgeskorte vonnis van 24 maande opgelê ingevolge 'n pleit- en vonnisooreenkoms wat hy met die staat aangegaan het.
Johannes Saayman (60) sê in sy pleit-ooreenkoms dat hy en sy vrou die betrokke dag 'n troue in Oudtshoorn bygewoon het en sy vroeg wou huis toe gaan.
Op pad huis toe was hulle in 'n woorde-wisseling. Hy het toe op die Calitzdorp-pad stilgehou en sy het uitgeklim.
Hy het ook uitgeklim waarna hy sy humeur verloor het en haar glo met die agterkant van sy hand geklap het. Sy het geval en terwyl sy op die grond gelê het, het hy haar met sy vuiste in die gesig gestamp en op die grond rondgesleep.
Hy het erken dat hy verkeerd opgetree het en die beserings volgens die J88, 'n mediese verslag, bevestig. Hy het ook erken dat hy onder die invloed van alkohol was en die klaer om verskoning gevra het.
Volgens sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die klaer die pleitooreenkoms onderteken en is hulle intussen geskei.
Volgens die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, moes die vrou hospitaal-behandeling vir haar beserings ontvang en het sy sedertdien nog nie weer met die beskuldigde gepraat nie.
Sy verwag egter nie dat hy tronk toe gestuur moet word nie.
Saayman is skuldig bevind op een aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer en is deur streeklanddros Ntsoki Moni, volgens die vonnisooreenkoms met die staat, tot 24 maande gevangenisstraf gevonnis wat voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Omdat geen wapen tydens die aanranding gebruik is nie, het die verdediging die hof versoek om nie Saayman ongeskik te verklaar om 'n vuurwapen te besit nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’