KANNALAND NUUS - 'n 72-jarige vrou van Amalienstein, Elizabeth Matokasie, is beseer nadat sy na bewering deur 'n verpleegster in die gange van die Alan Blyth-hospitaal in Ladismith rondgesleep is.
Volgens haar dogters, Angeline Scheepers en Johanna Claassen, het hul ma geen beserings gehad toe sy in die hospitaal opgeneem is nie.
"My ma het geen wonde gehad toe sy opgeneem is nie. Kyk hoe lyk sy nou," sê Scheepers.
Claassen beskryf die voorval as skokkend.
"Ons het 'n stemnota gekry dat ons dringend hospitaal toe moet kom. Toe ons daar kom, was haar arms reeds toegedraai. My ma het 'n pan gevra, maar het intussen self probeer opstaan en sy het geval. Die verpleegster het haar toe op die vloer gevind en haar aan haar arm teruggesleep saal toe. Haar vel het geskeur. Dis ondenkbaar dat so iets in 'n hospitaal kan gebeur."
Sy sê hulle is eers deur die hospitaal se administratiewe hoof genader nadat die voorval aan die lig gekom het.
"Ons het nie besef hoe ernstig die wonde is tot die beampte gevra het of sy foto's van my ma se wonde na die distriksdokter kon stuur nie. Toe ons die verbande afhaal het ek vir die eerste keer gesien hoe seer sy gekry het. "
Volgens die familie is hul ma ernstig getraumatiseer en bang om alleen te wees. Sy het glo ook geen berading ná die voorval ontvang nie. Die familie het besluit om haar dieselfde dag uit die hospitaal te neem en sê hulle gaan nie rus voordat daar opgetree is nie.
'n Medepasiënt, Vanessa Antonie, het gesê sy het die voorval sien gebeur.
"Die tannie was histeries. Ek was geskok toe ek die seerplekke sien. Haar velle was los en daar was bloukolle aan haar liggaam."
Die polisie ondersoek tans die saak.
Departement reageer
Volgens Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van gesondheid en welsyn, is die departement bewus van die voorval en tree hulle op.
"Ons is baie jammer oor die pasiënt se negatiewe ervaring by Alan Blyth-hospitaal. Ons is verbind tot die beste moontlike sorg aan pasiënte en het daarom onmiddellik opgetree deur die betrokke personeellid huis toe te stuur.
"Ons is ook besig met toepaslike tugstappe. Ons bestuur is in kontak met die pasiënt en haar familie om seker te maak sy ontvang voldoende sorg en ondersteuning," sê Ferreira.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, ondersoek die Ladismith-speurders ’n klag van aanranding met die doel om ernstige liggaamlike leed aan te rig na 'n voorval op Dinsdag 23 September omstreeks 15:00.
Spies sê die ondersoek is steeds aan die gang en niemand is nog in hegtenis geneem nie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’