Breaking News
DE RUST NUUS - Lede van die Attaqua K9-honde-eenheid in Oudtshoorn, saam met lede van die De Rust-polisie, het gister, 28 Augustus, 40 000 Mandrax-tablette op die N12 tussen Oudtshoorn en De Rust gevind.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het die provinsiale kommissaris van die Wes-Kaap, lt. genl. Thembisile Patekile, die pogings van die polisie om die instroming van onwettige dwelms na die provinsie hok te slaan, geloof nadat dwelms met 'n geraamde straatwaarde van R2 miljoen gevind is.
Volgens hom het die lede patrollies gedoen toe hulle 'n verdagte voertuig op die N12 opgemerk het.
"Hulle het die voertuig by die voertuigkontrolepunt afgetrek waar hulle voortgegaan het met 'n soektog wat gelei het tot die ontdekking van 40 pakkies Mandrax, wat in 'n kompartement aan die agterkant van die voertuig versteek was. Die polisie het op die vonds beslag gelê en die bestuurder in hegtenis geneem op aanklag van handel in dwelms."
Volgens hom ondersoek die Wes-Kaapse provinsiale speurders (narkotika-afdeling) hierdie saak.
Die 36-jarige man wat in polisie-aanhouding is, sal na verwagting op Vrydag 30 Augustus in die hof verskyn op die genoemde aanklag.
"Hierdie arrestasie en konfiskering is in ooreenstemming met die polisiëringsprioriteite van die provinsie wat toegewyd bly om dwelmhandel langs toegangs- en uitgangsroetes na die provinsie uit te roei."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’