OUDTSHOORN NUUS - Die verhoor van ’n vrou van Gqeberha en ’n Nigeriese burger, wat van handel in dwelms aangekla word, is Vrydag 4 Julie in die Oudtshoorn-streekhof na die getuienis van nog twee polisiebeamptes tot 16 Julie uitgestel.
Vuyiseka Mzwaki en Victor Udoh is op 15 Oktober 2021 naby Bakenskraal met dwelms ter waarde van meer as R300 000 in hul besit, in hegtenis geneem. Albei pleit onskuldig.
Mzwaki sê in haar pleitverduideliking dat die pakkie aan Udoh behoort het en sy nie bewus was van die inhoud daarvan nie.
Udoh voer aan dat die polisie wat die taxi waarin hulle na Oudtshoorn gereis het, buite die magtigingstyd vir die padblokkade (tussen 13:00 en 14:00) voorgekeer en deursoek het, as ongeldig verwerp moet word.
Sers. Jan Plaatjies het getuig dat inligting die betrokke dag ontvang is om op die uitkyk te wees vir ’n wit taxi waarin vermoedelik dwelms sou wees.
Volgens hom het hulle die taxi binne die bestemde tyd van die padblokkade voorgekeer en deursoek.
Mzwaki het toe aan hom gesê dat die pakkie aan Udoh behoort. Nie een van hulle wou eienaarskap daarvan neem nie waarop hy besluit het om dit oop te maak. Daar was volgens hom 743g methamphetamine (tik) in die pakkie, en die twee is in hegtenis geneem vir die onwettige besit van dwelms.
Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor en Hyron Goulding is die aanklaer. Mzwaki en Udoh bly in aanhouding.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’