OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen die 29-jarige Delmondo Moos, wat van die moord op die 27-jarige Shafnarine Esau aangekla word, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tot 4 Augustus vir verdere ondersoek uitgestel.
Esau is in die vroeë oggendure van Sondag 17 Mei in Derdelaan, Rocky Hill, doodgesteek nadat hy na bewering tussenbeide getree het in 'n bakleiery tussen 'n familielid en die beskuldigde.
Volgens die ondersoekbeampte, ao. Morné Janse van Rensburg, het Esau uit sy slaap opgestaan om die voorval te probeer stop toe hy noodlottig beseer is.
Die staatsaanklaer, Leandre Rhodes-Mei, het Van Rensburg se verklaring, wat tydens Moos se borgtogaansoek opgestel is, aan die hof voorgelees, aangesien die beampte weens werksomstandighede nie beskikbaar was om te getuig nie.
Die staat het nie borgtog teengestaan nie.
Esau se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het geen beswaar gemaak teen die aanvaarding van die verklaring nie, maar het die hof daarop gewys dat dit jammer is dat die ondersoekbeampte nie aan kruisverhoor onderwerp kon word nie.
Esau, wat in Kaapstad gewoon het, was ten tyde van die voorval in Oudtshoorn vir sy ouma se begrafnis.
Die landdros het bevind dat dit in die belang van geregtigheid is om borgtog toe te staan.
Volgens die hof is dit nog onduidelik hoe lank die ondersoek sal duur, en daarom sou voortgesette aanhouding onregverdig wees. "'n Verdagte kan nie in aanhouding bly as 'n vorm van straf nie."
Die hof het verder bevind dat daar geen getuienis is dat die beskuldigde 'n gevaar vir die publiek inhou nie, en dat hy geen vorige veroordelings of hangende sake het nie.
Moos is op borgtog van R1 000 vrygelaat op voorwaarde dat hy nie met staatsgetuies kontak maak nie, alle hofverskynings nakom en elke Maandag tussen 06:00 en 18:00 by die Bongolethu-polisiestasie aanmeld.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’