CALITZDORP NUUS - Geromy le Roux (24) van Warmbad in die Calitzdorp-distrik, is Donderdag 13 Maart in die Oudtshoorn-streekhof aan poging tot moord skuldig bevind. Hy is tronkstraf van vyf jaar opgelê.
Staatsaanklaer, Ticey Coerecius, het die hof gevra om Le Roux se weergawe, dat die klaer Niklaas Fortuin (44), hom die oggend van 19 Mei 2023 gewurg en hy uit selfverdediging opgetree het, as vals te verwerp.
Hy het self getuig dat hy met ’n mes na Fortuin se huis gegaan het. Sy verduideliking was dat hy dit net wou gebruik om homself te verdedig.
Hy het Fortuin sonder rede drie keer daarmee gesteek waarvoor Fortuin na ’n hospitaal in George oorgeplaas moes word vir operasies wat hy moes ondergaan.
Volgens Coerecius was Le Roux kwaad oor wyn wat hy by Fortuin wou koop ten spyte van die feit dat hy vroeër meegedeel is dat daar nie wyn was nie. Sy weergawe dat Fortuin hom met ’n bierbottel in die gesig geslaan het word ook nie deur ander ooggetuies gestaaf nie.
Streeklanddros Ntisoki Moni het bevind dat Le Roux se lewe op die betrokke dag nooit in gevaar was nie en die staat sy saak bo redelike twyfel bewys. Hy was kwaad omdat hy nie wyn by Fortuin kon kry nie en toon ook nie enige berou nie.
Die hof het bevind dat ’n opgeskorte vonnis, soos versoek deur die verdediging, nie ’n gepaste vonnis sal wees nie. Le Roux is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapenlisensie te bekom.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’