OUDTSHOORN NUUS - Juliana Devenish (37), ’n ma van vier kinders van Prins Albert, wat tans ’n vonnis uitdien wat eers in 2026 verstryk, is in die Oudtshoorn-streekhof wéér aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind.
Sy is ’n verdere ses jaar gevangenisstraf opgelê.
Juliana Devenish was op parool toe sy die dogter van haar broer sewe keer met ’n mes gesteek het. Sy is in 2022 aan poging tot moord skuldig bevind en ’n vonnis ingevolge Art 276 (1) (i) opgelê.
Die vonnis is egter in direkte tronkstraf omskep na ’n voorval terwyl sy op parool was.
Volgens haar pleitverduideliking het sy die betrokke dag wyn en bier gedrink en kan nie onthou wat sy gedoen het nie. Sy betwis egter nie die klaer se getuienis nie en het diepe berou oor wat sy gedoen het.
Die staatsaanklaer, Leandre May, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra. “Jy kan nie net ’n mes gaan vat en iemand so vol gate gaan steek nie,” het May gesê.
Streeklanddros Daniel Boks het vir vonnis in ag geneem dat Devenish skuldig gepleit het, maar bygevoeg dat sy reeds geleentheid gekry het om buite die tronk te rehabiliteer, maar dit nie gedoen het nie.
“Kinders benodig hul ma en die tronk is nie die plek waar hulle hul ma moet gaan besoek nie. So die vraag is: Juliana Devenish wanneer stop dit?”
Devenish is deur die hof gewaarsku dat sy gevaar loop om as gewoonte misdadiger verklaar te word.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’