OUDTSHOORN NUUS - 'n Man van Bongolethu in Oudtshoorn, wat sy swaer doodgesteek het nadat hulle oor die aankoop van kos gestry het, is verlede week in die Oudtshoorn streekhof vir 15 jaar tronk toe gestuur.
Thomas Mzwakhe Xhamfu (50) het op 26 Februarie 2022 vir Charlie Ewerts (45) in hul huis in Sesdelaan, Bongolethu, met 'n mes in die bors gesteek. Volgens hom het hy homself verdedig toe Ewerts hom gewurg en teen 'n kas vasgedruk het.
Omdat hy nie asem gekry het nie, het hy 'n mes gegryp en Ewerts een keer daarmee gesteek om los te kom.
Volgens hom praat die oorledene se seun nie die waarheid nie.
Die 19-jarige Reagan Campher, het getuig dat hy in die badkamer was en die stryery tussen sy pa en sy oom gehoor het.
Hy het hulle kalmeer en is weer terug na die badkamer.
Later het hy weer 'n stryery gehoor omdat sy pa by die beskuldigde wou weet waarom hy nie kos vir die huis gekoop het nie.
Hy het toe gehoor hoe sy oom aan sy pa sê dat hy hom gaan doodsteek.
Die hof het bevind dat die baie bloed in die sitkamer daarop dui dat die oorledene daar, en nie in die kombuis gesteek is soos wat die beskuldigde beweer nie.
Dit staaf die getuienis van die seun en die weergawe van die beskuldigde is onwaarskynlik.
Xhamfu is daaraan skuldig bevind dat hy die doel gehad het om Ewerts dood te maak en nie homself verdedig het nie.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’