OUDTSHOORN NUUS - 'n 22-jarige man is die week in hegtenis geneem nadat hy na bewering Vrydagaand, 6 Desember, 'n tweejarige Amerikaanse Veghond (pit bull) in Riemvasmaak, met 'n mes gesteek het. Volgens sers. Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaapse polisie, is die man op aanklag van opsetlike saakbeskadiging aangekla.
Die man sou na verwagting gister, Woensdag 11 Desember, in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn.
Die hond se eienaars, Anna-Marie Melight en Karel Witbooi, het Maandagoggend, 9 Desember, 'n klag by die Oudtshoorn-polisie aanhangig gemaak. Witbooi verduidelik dat hy en Melight Vrydagaand rustig in hul huis was toe hulle iemand oor die heining sien spring.
"Voor ons kon reageer, was hy in die erf. Jessie het 'n vreeslike tjank gegee, en toe ons buite kom, het die man weer oor die muur gespring en gevlug. Toe sien ons Jessie is gesteek. Sy is nie vasgemaak nie, want sy is glad nie aggressief nie. Hy het geen rede gehad om haar aan te val nie. Sy kom nie buite nie. Sy terroriseer niemand nie. Ons ken nie eens die man wat dit gedoen het nie. Hy het saam met 'n groep kinders weggehardloop," sê Witbooi.
Omdat hulle nie geweet het wie om vir hulp te nader nie, het hulle Saterdagoggend by die Oudtshoorn-diereherberg gaan hulp soek.
Ansa de Jager, stigter van die diere-herberg, het Jessie se wond behandel en antibiotika toegedien. Sy het ook kos gegee, maar omdat dit 'n diep wond was het sy hulle aangeraai om haar so vinnig moontlik by 'n veearts te kry vir die nodige mediese behandeling.
Jessie is toe na die Oudtshoorn-dierekliniek geneem waar sy oornag opgeneem is om te verseker dat geen verdere skade of infeksie intree nie. Sy is Maandag ontslaan.
Witbooi en Melight het daarna die identiteit van die aanvaller deur mense in die omgewing bevestig en die voorval by die polisie aangemeld.
"Hy het ons erf onwettig betree en ons hond seergemaak. Dit is dieremishandeling," sê Witbooi.
Die veearts se koste het vir die eienaars 'n finansiële uitdaging geword, maar hulle vertrou dat die polisie die saak verder sal hanteer. Hulle sê hulle kan nie verstaan wat die aanvaller gemotiveer het om Jessie met 'n mes te steek nie.
Volgens Jessie se eienaars gaan dit beter met Jessie en sterk sy goed aan.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’