OUDTSHOORN NUUS - ’n Man van De Rust, wat van verkragting, menseroof en twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer aangekla is, is in die Oudtshoorn-streekhof tot sewe jaar gevangenisstraf gevonnis nadat hy onskuldig bevind is op die aanklag van verkragting.
Christiaan Wanies (28) is daaraan skuldig bevind dat hy op 26 Mei 2023 'n vrou aangerand het, op 2 Desember 2023 haar ontvoer het en in sy opslaanhut op die grond neergegooi en met ‘n graaf geslaan het.
Wanies het onskuldig gepleit, maar die hof het die getuienis van die klaer sowel as twee polisiebeamptes as betroubaar bevind aanvaar. Hy kon ook nie antwoord op vrae waarom die slagoffer die betrokke dag vol bloed was nie.
Die hof het bevind dat die staat nie sy saak ten opsigte van verkragting bewys het nie en Wanies op hierdie aanklag onskuldig bevind.
Streeklanddros Daniel Boks het die drie aanklagte van menseroof en aanranding om ernstig te beseer saamgeneem vir vonnis en Wanies ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’