DE RUST NUUS - ’n 48-jarige man van De Rust, Conrad Williams, is in die Oudtshoorn-streekhof tot ses jaar direkte gevangenisstraf gevonnis nadat hy skuldig bevind is aan aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Williams het op 27 Julie 2024 sy eksvrou, Katrina Afrika, met ’n mes bokant haar linkeroog gesteek nadat hy kwaad geword het omdat sy nie meer ’n verhouding met hom wou hê nie. Op die aanklag het hy skuldig gepleit.
In sy pleitverduideliking het Williams gesê Afrika het na Kaapstad verhuis en was tydens ’n vakansiebesoek in De Rust toe hy haar gekonfronteer het.
“Ek het kwaad geword, ’n mes uitgehaal en haar bokant haar linkeroog gesteek,” het hy aan die hof gesê.
Hy het erken dat sy lewe nie in gevaar was nie en dat hy ten tyde van die voorval onder die invloed van alkohol was.
“Ek is jammer en sal my straf aanvaar.”
Sy regshulpprokureur, Margaretha Aucamp, het die hof meegedeel dat Williams die pa van vyf kinders is en dat hy reeds ’n gevangenisstraf van vyf jaar uitdien, ook vir aanranding. Sy het versoek dat die nuwe vonnis gelyktydig met sy huidige vonnis uitgedien word.
Die staatsaanklaer, Mervan Saaiman, het egter aangevoer dat Williams geen regverdiging vir die aanval gehad het nie en dat slegs direkte gevangenisstraf gepas sou wees.
Volgens hom was daar geen wesenlike en dwingende omstandighede wat ’n afwyking van die voorgeskrewe minimum vonnis van tien jaar sou regverdig nie.
Streeklanddros Ntsoki Moni het tydens vonnisoplegging gesê Williams se lang lys van nege vorige veroordelings toon dat hy ’n gewelddadige persoon is.
Die hof het die versoek dat die vonnisse samelopend uitgedien word, van die hand gewys en Williams ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’