Breaking News
OUDTSHOORN NUUS - Danksy die vinnige optrede van 'n inwoner is 'n man wat na bewering 'n motor van 'n bejaarde vrou gesteel het, vinnig in hegtenis geneem.
Dié toneel het hom vanmiddag, 5 April, in Hoogstraat afgespeel.
Volgens die eienaar van die motor, was sy vinnig in Melville Kafee toe die voorval gebeur het.
"Ek het weer uitgestap en gesien my motor is weg. Ek was nie eers vyf minute binne nie."
'n Inwoner wat van Victoriastraat se rigting gery het, het aan die Oudtshoorn Courant vertel dat hy die blou motor in verkeerde baan na hom toe sien aankom het.
"Die volgende oomblik toe hop die kar en daar is hy deur die mense se tuinhekkie. Ek het net daar gestop en uitgespring toe ek sien hy hardloop weg. Ek het hom gevang, en toe die polisie gekontak en daar gehou tot hulle opgedaag het," vertel die man.
Die eienaar van die voertuig sê hoewel sy woendend is, is sy dankbaar dat sy nie in die voertuig was toe die voorval gebeur het nie.
Die vermeende skelm het met die motor byna deur die muur gery. Foto's: Liezl van Niekerk
Forensiese deskundiges is besig om vingerafdrukke te neem.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’