OUDTSHOORN NUUS - Die 42-jarige Roysten Coetzee van Oudtshoorn, wat sy eksmeisie se nuwe kêrel vier keer met 'n bierbottel geslaan en haar ook een keer met 'n stukkende bierbottel gesteek het, is in die Oudtshoorn-streekhof tronkstraf van 11 jaar opgelê waarvan vyf jaar voorwaardelik opgeskort is.
Die hof het Coetzee se weergawe dat hy Mornache le Fleur (33), net een keer met 'n bierbottel geslaan het, en glad nie vir Samantha Anthony gesteek het nie, verwerp.
Die hof het bevind dat dit onmoontlik is vir Le Fleur om soveel beserings op te doen indien hy net een keer met ‘n bierbottel geslaan is. Coetzee het aangevoer dat hy en Anthony nog in 'n verhouding was, maar dit is deur Anthony ontken.
Volgens Le Fleur kan hy sy ringvinger nie meer soos voorheen gebruik nie, ten spyte van fisioterapie wat hy ondergaan het.
Coetzee is tot ses jaar tronkstraf vir die aanranding van Le Fleur en vyf jaar vir die aanranding van Anthony gevonnis.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’