OUDTSHOORN NUUS - Borgtog is verlede week in die Oudtshoorn-landdroshof geweier aan 'n man wat teregstaan op aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging.
Roegelin Campher (40) word daarvan aangekla dat hy na bewering die klaer op 16 Maart vanjaar geskop en op die grond gesleep en haar motor se agterlig stukkend geskop het.
Die staatsaanklaer, Zelda Jass, sowel as die ondersoekbeampte het borgtog teengestaan. Volgens die ondersoekbeampte het die klaer in April en Mei 2023 by drie geleenthede sake teen hom gemaak wat egter nie op die hofrol verskyn het nie.
Campher se regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, het vir borgtog gevra omdat die saak lank kan duur en Campher moontlik sy werk as bewaarder kan verloor en dan nie sy regskoste kan betaal nie. Hy is nie ‘n vlugrisiko nie en die klaer het nie enige beserings opgedoen nie.
Landdros Stephanie Strydom het bevind dat dit nie in belang van geregtigheid is om borgtog aan Campher toe te staan nie, omdat hy al voorheen beskermingsbevele en borgtogvoorwaardes verontagsaam het. Daar is ook die moontlikheid dat hy weer die klaer sal aanrand en sy in vrees vir hom lewe. “Dit is duidelik dat daar ‘n geskiedenis van geweld is en hierdie is die vierde klag binne agt maande,” het die landdros gesê.
Dit bly volgens die landdros egter enige persoon se reg om onskuldig te pleit soos wat die beskuldigde aangedui het hy sal doen.
Die saak is vir verdere ondersoek tot 3 Mei uitgestel.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’