OUDTSHOORN NUUS - AfriForum in Oudtshoorn rig 'n dringende versoek aan inwoners om betrokke te raak by die buurtwagstelsel in die dorp.
Alle ingeskrewe AfriForum-lede word veral gevra om betrokke te raak by die inisiatief sodat die veiligheid in Oudtshoorn aangespreek kan word.
Volgens Marthinus Erasmus is hul veiligheidspan tans hard aan die werk om die buurtwagstelsel te herorganiseer om misdaad te bekamp en woonbuurte veilig te hou.
"Wees deel van die oplossing en maak ons hande sterk, elkeen hoef slegs een skof per maand re ry."
Die noodsaaklikheid van 'n buurtwagstelsel kan nie genoeg beklemtoon word nie.
Tans is daar 16 geregistreerde patrollie-groepe in Oudtshoorn, maar belangstelling en betrokkenheid is baie swak.
'n Buurtwag het ten doel om publieke bewusmaking in terme van gemeenskaps-veiligheid, misdaadvoorkoming, asook die beskerming van eiendom te skep.
Gemeenskappe word aangemoedig om nou saam met die polisie, asook ander veiligheidsvennote, soos plaaslike wetstoepassing te werk om misdaad in 'n gemeenskap aan te spreek. 'n Buurtwag bestuur en koördineer misdaadvoorkominginisiatiewe om misdaad in 'n woongebied te ontmoedig.
'n Buurtwag het ook ten doel om 'n gemeenskap saam te bind deur 'n stabiele en misdaadvrye omgewing vir inwoners te skep.
Gedragskode
'n Buurtwag is 'n geregistreerde organisasie wat verbind is tot 'n streng gedragskode vir buurtwaglede, asook spesifieke gedrag en pligte as dit kom by buurtwagpatrollie.
Die polisie moet altyd bewus wees indien die buurtwag besig is met 'n patrollie; daar moet gestreef word om in vennootskap met die lede van die polisie, en munisipale wetstoepassing te werk ten opsigte van misdaadvoorkoming in die gebied. Alle wettige instruksies vervat in die gedragskode moet gehandhaaf word.
Buurtwaglede moet duidelik sigbaar en geïdentifiseer kan word tydens patrollies. Die plaaslike polisie moedig inwoners aan om betrokke te raak by die buurtwagstelsel sodat elke woonbuurt in die Groter-Oudtshoorn gebied 'n werkende buurtwag het om misdaadbekamping te bevorder.
Vorige artikels
- AfriForum-buurtwag in De Rust gereed om misdaad hok te slaan
- 11 AfriForum-buurtwaglede kwalifiseer as skietinstrukteurs in die Wes-Kaap
- Buurtwagte noodsaaklik
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’