OUDTSHOORN NUUS - Daar heers steeds kommer oor die vlak van Covid-19-gevalle in Oudtshoorn en inwoners se houding jeens inperkingsmaatreëls en inentings.
Tydens 'n mediasessie Dinsdag het Reginald Smit, die waarnemende munisipale bestuurder en Chris Macpherson, uitvoerende burgemeester, gesê hulle is bekommerd oor die gedrag van sommige inwoners.
"Ek ry saans deur die dorp en deur die woonbuurte en is geskok om te sien hoeveel mense steeds saamdrom en hoe sommige taverne- en winkeleienaars hulle eenvoudig nie aan die regulasies steur nie," het Macpherson gesê.
Die munisipaliteit het reeds twee weke gelede in 'n verklaring gesê die skielike toename in Covid-19-infeksies en die lae inentingsyfer in Oudtshoorn is kommerwekkend. Smit het daarop gewys dat die munisipaliteit streng volgens Covid-19-regulasies optree.
"Ek is die persoon wat alle vrae moet beantwoord, ek is die een wat moet toesien dat werknemers beskerm word en daarom is dit my plig om toe te sien dat alle stappe gevolg word," het hy Dinsdag gesê.
"Hy het egter benadruk dat werknemers en inwoners oor die algemeen ook van hulle kant af die verantwoordelikheid moet neem om die Covid-19-regulasies na te kom. "Wat help dit werkgewers en owerhede stel alles in plek om mense te beskerm en dan ignoreer mense die maatreëls?"
Hy en die burgemeester het verwys na sportgeleenthede die afgelope twee weke waar mense in weerwil van die regulasies saamgedrom het. Dit is ook vir hulle kommerwekkend dat sommige organisasies geleenthede reël sonder om die nodige toestemming by rampbestuur en departement van gesondheid te bekom en dat ander wel aansoek doen, maar dan eenvoudig voortgaan as die aansoek afgekeur word.
Die burgemeester het gesê dat geen sportgeleentheid of byeenkoms tans goedgekeur sal word nie.
"Ons het wel toestemming gegee dat 'n uithouperderit wat elders begin 'n roete verby die dorp mag volg en dat hulle een van die hoofpaaie buite die dorp op twee plekke mag kruis, maar daar is nie groot getalle mense betrokke nie."
Macpherson en Smit het gesê die antwoord om die huidige Covid-19-vlaag te stuit is algehele samewerking van die gemeenskap en grootskaalse inenting van inwoners. "Inwoners, organiseerders van sportgeleenthede en sakeondernemings moet saamstaan en sorg dat die regulasies nagekom word, anders is ons besig om 'n verlore stryd te voer," het die burgemeester gesê. Mense en organisasies wat geleenthede en byeenkomste beplan moet toestemming by die munisipale rampbestuur sowel as by die departement van gesondheid kry en die polisie ook verwittig. Kontak nommers om aansoek te doen vir funksies:
- Dept. van Gesondheid: Mark Develliers -083 709 0292 of marc.develliers@westerncape.gov.za
- Rampbestuur: Irene Malgas - 044 203 7806 of malgas@oudtmun.gov.za
- Oudtshoorn-polisie: 044 203 9002
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'