Op die natuurreservaat 30 km buite Ladismith op pad Barrydale toe is daar geen grensdrade nie en beslis geen kragkabels nie en is die kanse goed dat 'n trop elande voor jou voordeur kom wei. Die eienaar en ontwikkelaar van Touwsberg, Dr. Freddie la Grange, vertel dat hy 'n aantal jare gelede op 'n plaas naby Bella-Bella was waar 'n klomp aandeelhouers bymekaar gekom het en 'n stuk grond gekoop het waarop mens en dier vrylik kon rondloop.
"Daar is die idee gebore om 'n stuk Karoo vir mense beskikbaar te stel waar jy 'n huis kan opsit sonder heinings en elke oggend in die middel van 'n stuk ongerepte Karoo kan wakkerword. Hy het sedert 2007 nog 24 aangrensende plase gekoop om by die ses te voeg wat hy reeds gehad het en het heel eerste alle grensdrade binne die 7000 ha reservaat verwyder.
Hy het 'n beperkte aantal erwe van 'n hektaar elk uitgesit en van water voorsien en hulle bemark aan mernse wat graag 'n stukkie Karoo wil besit. Daar is reeds 65 persent van die erwe verkoop.
"Die reëls vir nuwe eienaars is eenvoudig," verduidelik Freddie "jou huis mag nie meer as 200 vierkante meter wees nie, dit moet met die omgewing saamsmelt, krag moet deur sonpanele voorsien word en daar mag geen heinings wees nie."
Die erwe se ligging is haarfyn beplan sodat huise ver genoeg van mekaar geleë is om mekaar nie te pla nie.
"Vir die mense wat hier eiendom koop kom die natuur eerste so niemand doen iets wat dit vir ander mense in die reservaat bederf nie," sê Freddie ingenome terwyl hy een van die boorgate uitwys. Die spesifieke boorgat lewer 'n ongelooflike 150 000 liter water per uur.
Terwyl Freddie die reservaat wys maak bergsebras, blesbokke, springbokke, volstruise en elande hulle opwagting tussen die bosse en langs damme. Freddie verduidelik dat hulle gereeld wild aankoop, maar ook gereeld sommige troppe moet uitdun deur hulle te vang en te verkoop. Behalwe vir die groot verskeidenheid boksoorte in die reservaat is daar ook blouwildebeeste en kameelperde.
Touwsberg is ook nie slegs bekend as 'n natuurreservaat nie, maar ook as 'n baie aktiewe sentrum vir geestelike bediening. Freddie het doktorsgrade in ekonomie en teologie en saam met sy vrou Ingrid behartig hulle 'n bedieningsprogram. Hulle is juis besig met die reëlings vir 'n groot mannekamp wat in Augustus by Touwsberg aangebied word.
"Ons doen veral leiersbediening," verduidelik Freddie "waar ons leiers uit die gemeenskap bemagtig om hulle gemeenskappe op verskillende vlakke te lei."
Vir navrae oor Touwsberg-akkommodasie of hulle bediening kontak hulle gerus by 028 551 2172 of besoek www.touwsberg.co.za
Huise op Touwsberg smelt met die omgewing saam en geen kragdrade of heinings word toegelaat nie.
'Ons bring jou die nuutste Karoo nuus'