Toe Cobus en Ella Saayman in November 1994 die praktyk as 'n vennootskap begin het was hulle voorneme om die beste moontlike diens te lewer en stelselmatig hulle kliëntebasis op te bou. Die vennootskap is in 2002 in ’n maatskappy omskep waarvan die huidige aandeelhouers Cobus en Ella Saayman, Amanda Delport en Brandon Iverach is. Die maatskappy se twintigste bestaansjaar is ook 'n hoogtepunt vir Brandon Iverach aangesien hy hierdie jaar die vierde aandeelhouer asook die maatskappy se derde direkteure saam met Cobus en Ella geword het.
Brandon het in 2006 by Saayman en Kie aangesluit en sy klerkskap die volgende drie jaar voltooi het. In 2009 voltooi hy sy raadseksamen by die Instituut van Professionele Rekenmeesters van Suid-Afrika (SAIPA) en kwalifiseer daarmee as 'n professionele rekenmeester.
Soos wat Saayman & Kie Rekenmeesters se kliëntebasis oor die jare uitgebrei het, moes die personeel ook noodgedwonge groei. Daar is tans 16 personeellede wat na die behoeftes van kliënte en belange van die maatskappy omsien. Die personeel bestaan uit administratiewe personeel, junior rekenmeesters wat as ingeskrewe klerke, hul klerkskap deur die maatskappy voltooi en drie gekwalifiseer professionele rekenmeesters wat by die (SAIPA) asook by die Instituut van Belastingpraktisyns (SAIT) as praktiserende lede geregistreer is.
Cobus Saayman sê dat hy trots is op die maatskappy wat die afgelope twintig jaar 'n sterk kliëntebasis opgebou het deur uitmuntende omvattende diens aan kliënte teen ‘n billike koste en deur goeie verhoudings met die statutêre owerhede te handhaaf. "Dit is dus vir ons belangrik dat nie net die aangeleentheid van rekenmeestersfooie die keuse van rekenmeester maak nie, maar die verhouding tussen rekenmeester en kliënt en gepaardgaande bevredigende diens aan die kliënt teen ‘n aanvaarbare koste."
Saayman en Kie Rekenmeesters bied 'n wye reeks dienste wat die volgende insluit:
• Rekeningkundige- en belastingdienste aan eenmansake, vennootskappe, beslote korporasies, maatskappye en trusts.
• Voltooiing en indiening van alle statutêre opgawes soos BTW, WVF en LBS.
• Kosteberekeninge en opstel van begrotings en finansiële state.
• Boedelbeplanning en administrasie van boedels.
Behalwe vir voortgesette goeie diens is dit ook belangrik dat 'n maatskappy soos Saayman en Kie op hoogte bly met veranderinge en gereelde opleiding aan personeel voorsien.
"In die vinnig veranderende wêreld daar buite het die rekeningkundige- en belastingwetgewing nie agtergebly nie en kan ’n rekenmeesterspraktyk nie funksioneer as ons nie te alle tye op hoogte bly van die wetswysigings en nuwe tegnologie nie. Daarom is dit vir ons belangrik dat ons die personeellede oplei om op ’n spesifieke vlak van kennis en ondervinding ons kliënte te bedien" sê Cobus.
Saayman en Kie Rekenmeesters het presies twee jaar gelede, op 14 Junie, die pragtige sandsteengebou op die hoek van Hoop- en Baron van Reedestraat (113) wat deur die maatskappy gekoop is, betrek. Die kantore is opsigtelik, buite die besige sakekern met oorgenoeg veilige parkering. Volgens Cobus is dit ’n ou volstruishuis, wat pragtig gerestoureer is, met baie karakter en ’n interessante geskiedenis wat deur baie van die ouer inwoners van Oudtshoorn vertel word.
Kontakbesonderhede van Saayman en Kie Rekenmeesters is Tel. (044) 272 8310, Faks (044) 272 8311 / 086 616 8171, Sel. 082 578 7354, e-pos: info@saaykie.co.za
Saayman en Kie Rekenmeesters se personeel voor die pragtige sandsteenhuis wat nou hul kantore is. Die maatskappy is vanjaar 20 jaar oud en het 'n personeelkorps van 16 toegewyde mense.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'