OUDTSHOORN NUUS - Die bekende ekonoom, Dawie Roodt van Efficient Group, sê die onbekwaamheid van die regering op talle vlakke skep nuwe geleenthede vir mense.
Hy het verwys na sektore soos Transnet, Eskom, die onderwys en die gesondheidsdienste en gesê hoe swakker die regering daarin slaag om hierdie entiteite te bestuur hoe meer is daar geleenthede vir privatisering.
Roodt en Willem Basson, ook van Efficient Group, was Dinsdagaand die sprekers by die Oudtshoorn-besigheidskamer se jaarlikse gala-aand wat by De Opstal Country Lodge gehou is. Die aand is deur Nedbank geborg.
Roodt het daarop gewys dat mense wêreldwyd beter daaraan toe is as 'n aantal jare gelede, maar dat Suid-Afrika oor dieselfde tydperk dramaties agteruitgegaan het. "Suid-Afrika is op elke denkbare vlak swakker as die res van die wêreld. Ons spandeer byvoorbeeld in verhouding meer op onderwys as die res van die wêreld, maar ons onderwysstelsel is tans van die swakste in die wêreld." Hy wys ook daarop dat 30 miljoen mense tans van staatstoelaes afhanklik is.
Hy skryf hierdie verval toe aan die ANC se "destruktiewe mag" wat net op een ding fokus, naamlik om die ANC te voed. Hy sê egter dat die ANC besig is om mag te verloor en met die afgelope verkiesing die party was met die grootste verliese terwyl kleiner partye baie sterk na vore getree het. Suid-Afrika is in 'n proses van politieke regstelling, sê Roodt en hy verwag dat die politieke prentjie met die volgende verkiesing heeltemal anders gaan wees en dat daar reeds veranderinge besig is om plaas te vind.
Gaste tydens Dinsdagaand se galageleentheid by De Opstal Country Lodge.
Hy het ook gesê dat ekonomiese groei slegs drie dinge benodig wat deur enige regering gewaarborg moet word, dan gebeur die groei vanself.
"Die regering moet sy eie belang vergeet en sorg dat eiendomsreg beskerm word, dat mense vry kan handeldryf en dat daar 'n geldeenheid is wat betroubaar is. Dis hoe eenvoudig dit is."
Hy het na die burgemeester, Chad Louw, se praatjie vroeër die aand verwys en gesê hy is opgewonde om te sien dat daar 'n jong visie vir Oudtshoorn is. Louw het gesê daar moet 'n klimaat in Oudtshoorn geskep word vir ekonomiese vooruitgang en dat die munisipaliteit en die sakesektor moet saamwerk om oplossings te vind. Roodt het Louw en die ander verteenwoordigers van die munisipaliteit wat teenwoordig was uitgenooi om hande te vat met kundiges en het ook gesê dat sy eie maatskappy uiters kundige mense reg op die voorstoep van Oudtshoorn het en dat hulle insette uiters waardevol kan wees.
Roodt het sy praatjie afgesluit deur te sê dat die eerste stap na enige verandering die besluit is om die stap te neem. "As jy eers besluit het om iets te doen, volg die res vanself."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'