Advertorial
SAKENUUS - Die verkoopspan van Renault Oudtshoorn kan vir die tweede agtereenvolgende jaar breëbors aankondig dat hulle die titel, Handelaar van die Jaar, in hulle kategorie van kleiner dorpe vir die 2020 boekjaar gewen het.
Met hierdie prestasie het hulle dorpe soos Kokstad, Vredendal, Queenstown en Upington wat in dieselfde kategorie meeding, uitgestof.
Nie net het die tak hierdie toekenning gewen nie, Ronnie Colin plaaslike handelaarshoof, is ook in dieselfde kategorie as verkoopsbestuurder van die jaar aangewys.
Dit is voorwaar 'n prestasie as in ag geneem word dat daar 86 Renault-takke landwyd is waarvan ongeveer 15 in die kategorie van kleiner dorpe val.
Dat die verkoopspan gewoeker het is duidelik as daar na die verkope gekyk word. In die 2020 boekjaar het Renault Oudtshoorn 'n stewige 229 voertuie verkoop waarvan 129 gebruikte voertuie was. As die Nissan-afdeling waarvan Oudtshoorn Renault deel vorm, in ag geneem word, het die span 'n yslike jaar gehad met verkope van net-net onder die 450 voertuie. Volgens Colin is dit vir 'n klein handelaar soos hierdie 'n uitsonderlike prestasie.
Die toekennings wat ontvang is, is egter nie slegs op die aantal nuwe voertuie wat verkoop is, gebaseer nie. Colin sê die beoordelaars kyk ook na terugvoer van klante, die verskeidenheid modelle wat verkoop is, diens deur die hele personeel en die voorkoms en instandhouding van die perseel. Hy noem ook dat die opleiding wat werknemers voltooi in ag geneem word met die beoordeling. Die toekenningsgeleentheid kon vanjaar as gevolg van Covid-19 nie op die gebruiklike manier aangebied word nie, maar is virtueel gedoen.
Op 'n vraag waaraan Renault Oudtshoorn se sukses toegeskryf kan word, het Colin gesê: "Ons bestuur ons besigheid op baie basiese beginsels – eerlikheid, integriteit, respek vir mekaar en hardwerkendheid met geen kortpaaie. Jou werknemer, verskaffer en kliënt is 'n driehoek waar elke been presies dieselfde diens, aandag en respek geniet met geen uitsonderings nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'