Sponsored Content
TUINROETE NUUS - Die uurglas begin leegloop na Rauch Gertenbach Prokureurs se eeufeesviering in Maart vanjaar.
Na verskeie besoeke aan die verlede om dié firma se ryk geskiedenis te belig, fokus die volgende artikel op ‘n gesprek met Chappie Gertenbach, een van die sleutelfigure aan wie die firma sy naam te danke het.
Eerste indrukke
Chappie Gertenbach was ‘n jeugdige 26 jaar oud toe hy op Mosselbaai aangekom het op versoek van ‘n ou vriend, Jan Rauch. Die twee het mekaar as artikelklerke op Bloemfontein en ook op die gholfbaan leer ken.
Chappie is ‘n boorling van Phillipolis in die Vrystaat, maar matrikuleer op Bloemfontein waar hy ook in die regte studeer.
Hy het op Port Elizabeth gepraktiseer toe Jan Rauch hom nader om by sy firma aan te sluit. Rauch het toe reeds die firma van wyle Mike Harris bedryf.
Op 1 Februarie 1973, stap ‘n jong Chappie Gertenbach by MJ Harris se kantore in Cuffstraat in. Die personeel het toe bestaan uit ‘n ontvangsdame, Rauch se tikster en die legendariese Mavis Victor en Hansie Oosthuizen, wat in die invorderingsafdeling gewerk het.
“Daardie twee dames het my net so een kyk gegee en glo gesê ‘hierdie mannetjie gaan dit nie lank maak nie’”, vertel Chappie laggend.
Dít was egter die begin van sy bykans 33 jaar lange verbintenis met die regsfirma wat vandag nog sy naam dra.
Hy lag uit sy maag as hy sy eerste kliënt van daardie eerste dag onthou.
“Dit was ‘n tannie van Voorbaai. Destyds was Voorbaai nog landelik. Sy het beweer die buurvrou steel haar makoue. Daar het nie veel van die saak gekom nie, maar ek onthou dat ek nog ‘n brief vir die buurvrou geskryf het.”
By die hantering van klein plattelandse kwessies tussen kywende bure het dit egter nie gebly nie. Rauch Gertenbach het ‘n al groter rol begin speel in die weefsel van Mosselbaai, soos die dorp begin ontwikkel het.
Toewyding
Op 60-jarige ouderdom, tree Chappie Gertenbach af. Daar word nou nog gepraat oor sy afskeid – ‘n groot onthaal destyds nog in Laerskool Hartenbos se skoolsaal gehou.
As jy hom herinner daaraan hoe geliefd hy onder kliënte en die gemeenskap was, lag hy net en sê “ek kan dit nie glo nie”. Die geselligheid van sy afskeid skryf hy toe aan ‘n besonderse gevoel onder die firma se personeel.
“Dit was ‘n baie lekker klomp mense. Dit is nou maar net so – daar was altyd ‘n baie goeie atmosfeer in die kantoor.”
Na sy aftrede, het Chappie voltyds begin boer. As ‘n plaaskind met ‘n groot liefde vir landbou, het hy gedurende sy jare in die praktyk altyd op klein skaal geboer. Die res van sy energie, het hy in die praktyk ingeploeg.
“Hier gedurende die tagtigerjare, het ek meeste van die tyd van sewe tot sewe gewerk. Later, het dit darem verander.”
Nie net ‘n naam
Vir hom is van die mees merkwaardige veranderinge, die omwenteling wat tegnologie meegebring het.
“Aan die begin het ons baie van telegramme gebruik gemaak. Toe kom die teleks en toe ‘n wonderlike ding – die faksmasjien. Jy weet self waar ons nou al staan met tegnologie…”
In 1990 trek Rauch Gertenbach na die gebou in Kerkstraat 10.
“Die plek was baie bouvallig, maar ons het dit heeltemal reggemaak. Ben van der Walt, ‘n baie bekende bouer van daardie tyd het so drie tot vier maande spandeer om die plek reg te ruk. Natie Myerson was die argitek.” Myerson was op ‘n tyd ook burgemeester van Mosselbaai.
Vir Chappie Gertenbach is ‘n naam bloot ‘n naam.
“Hulle kan enige tyd die firma se naam verander. Vir my speel dit nie ‘n groot rol in my lewe nie. ‘n Naam is ‘n naam, maar om elke twee jaar ‘n naam te verander? Dit skep nie ‘n gevoel van stabiliteit nie.”
En met ‘n 100 jaar se ryke geskiedenis op hul kerfstok, is Rauch Gertenbach Prokureurs se wortels diep en gevestig – nie net op Mosselbaai nie, maar ook in die Suid-Kaap.
Verwante artikels:
- Kerkstraat 10: As die mure kon praat
- Rauch Gertenbach Prokureurs 'n vaste naam en adres
- Rauch Gertenbach Prokureurs die laaste van die grondleggers
- Gaan op reis na gister met Rauch Gertenbach Prokureurs
- Rauch Gertenbach 'n geskiedkundige adres
- 'n Feesjaar vir Rauch Gertenbach
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'