Sponsored Content
SAKENUUS - In die aanloop na Rauch Gertenbach se eeufeesviering in Maart vanjaar, werp ‘n reeks artikels lig op die firma se geskiedenis. Met die artikels se verspreiding op sosiale media, bied kommentaar soms ‘n interessante invalshoek, nuwe inligting of selfs vrae wat soms slegs deels beantwoord bly.
Na ‘n onlangse artikel oor diegene wie se naam die firma vandag nog dra, wou ‘n leser meer oor Jan Rauch weet.
Hoewel inligting maar effes skraps blyk te wees, kon daar tog ‘n prentjie van mnr Rauch gevorm word.
In ‘n gesprek met Chappie Gertenbach noem hy dat hy en Jan Rauch, saam artikels op Bloemfontein gedoen het. Hulle het mekaar ook gereeld op die gholfbaan gesien. Rauch was ‘n boorling van Edenburg, waar sy pa geboer het.
Rauch se professionele spoor loop volgens inligting na Johannesburg, waarna hy in Mosselbaai kom vestig.
Mavis Victor wat 57 jaar lank vir Rauch Gertenbach gewerk het, skryf in haar rekords van die geskiedenis se verloop, hoe Rauch uiteindelik op Mosselbaai beland het.
In 1951 begin Mike Harris van George die firma Hurter & Harris in Cuffstraat op Mosselbaai. Mavis Victor is in Februarie 1952 aangestel. In 1954 bedryf die kantoor sake onder die naam MJ Harris & Kie. Volgens Victor se herinneringe het Harris hier in die jare sestig begin siek word en was hy vir baie dae nie in staat om te kom werk nie. Sy en haar kollega, die ewe bekende Hansie Oosthuizen moes dikwels die fort hou. Op 18 November 1971 is Harris oorlede.
Aangesien die kantoor nie langer as ses weke sonder ‘n gekwalifiseerde prokureur kon funksioneer nie, was daar ‘n paar wat waargeneem het tot Jan Rauch in 1972 die firma oorgeneem het. Gertenbach, toe in Port Elizabeth, het in 1973 op Rauch se versoek by hom aangesluit.
Sakekamer 1987.
Sakekamer 1987.
Met klaarblyklik ‘n talent vir gholf so groot soos sy liefde vir die sport, onderskei Jan Rauch homself op die gholfbaan en dien etlike jare as president van die plaaslike gholfklub. Hy palm ook glo talle kampioenskappe in die Suid-Kaap in, aldus ‘n kennis en voormalige prokureur, Gilbert Miller.
Miller onthou Jan Rauch as ‘n lang, skraal, donker man en ‘n bekwame prokureur. Miller het sy pa se regsfirma, ook in Cuffstraat genaamd Miller Terblanche & Zietsman, oorgeneem. Hy het in die jare 90 uit die regsprofessie getree.
Chappie Gertenbach vertel dat sy vennoot Jan Rauch in 1987 bedank het om te gaan boer op sy geboorteplaas. Dit was voor die firma se skuif na die huidige gebou in Kerkstraat 10.
Na ‘n tydperk in die boerdery, keer Rauch in 1992 terug na Mosselbaai. Hy begin egter sy eie firma in Cuffstraat aangesien daar nie toe vir hom, aldus Gertenbach, ‘n posisie by die reeds gevestigde firma beskikbaar was nie. Rauch se gesondheid het egter agteruit begin gaan, waarskynlik vanweë die feit dat hy ‘n strawwe roker was, meen Gertenbach.
Die twee voormalige vennote het egter vriende gebly tot Rauch se afsterwe.
“Ja, ons het deur die jare altyd ‘n goeie verhouding gehad. Hy was ‘n lang man, met so ‘n statige stap aan hom,” onthou Gertenbach.
Jan Rauch is in Julie 1995 oorlede.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'