Die nuut-aangestelde uitvoerende hoof van Kuns Onbeperk, Rhodé Snyman, het Donderdagaand tydens die maandelikse netwerkaand van die besigheidskamer terugvoering oor die 20ste Absa KKNK gegee. Sy het gesê dat interessante feite en statistieke wat tydens die fees aan die lig gekom het beslis gebruik gaan word om volgende jaar se fees te beplan.
Een van die aspekte waarna onder andere gekyk gaan word is die demografie van die fees wat vir die organiseerders 'n duidelike beeld gee van watter ouderdoms- en bevolkingsgroepe in die meerderheid is by die verskillende areas van die fees. Sy het ook genoem dat daar volgende jaar met die programsamestelling gepoog gaan word om produksies vir die duur van die fees aan te bied.
In die verlede het baie produksies slegs in die eerste of slegs in die tweede helfte van die fees plaasgevind. Ander interessante feite wat aan die lig gekom het is dat die gemiddelde feesganger ongeveer vier dae by die fees spandeer en dat groepe wat die fees besoek eerder vriendskapsgroepe as familiegroepe is.
Volgens statistieke het die totale kaartjieverkope by hierdie jaar se fees R9 013 miljoen beloop en visuele kuns ter waarde van R1, 32 miljoen is verkoop. Snyman het daarop gewys dat die kunsverkope slegs verkope is wat direk deur die Absa KKNK bemark is en sluit nie privaat uitstallings en stalletjies se verkope in nie. Verder het die Absa KKNK ook 570 tydelike werksgeleenthede geskep. Dit sluit werkers uit wat tydelik deur privaat instansies in diens geneem is.
volgende jaar se Absa KKNK vind vanaf 3 tot 11 April plaas. Die goeie nuus, sê Snyman, is dat die fees tydens die skoolvakansie en gedurende die Paasnaweek plaasvind.
Tydens Donderdagaand se netwerkfunksie is Willie Marais, hoof uitvoerende beampte van AIFA as 2013 Burger-sakeleier van die jaar aangewys. Geoff Wilck van Wilck Spar en Hugo en Danie Terblanche van Van der Bergh Vervoer was die ander finaliste.
Willie Marais, regs, is Donderdagaand as Die Burger se besigheidsleier van die jaar aangewys. By hom is Niel Els (voorsitter van die Oudtshoorn-besig-heidskamer) en Garnett Wicomb wat die prys namens Die Burger oorhandig het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'