Advertorial Gallery Video
SAKE-NUUS EN VIDEO - Die Moedertaal in Onafhanklike Skole (MOS) Inisiatief en Doxa Deo Opvoedkunde het tydens die bekendstelling op Dinsdag 29 November aangekondig dat hulle hande vat met die ontwikkeling van 'n Afrikaanse privaat skool by die Hartland Landgoed in Hartenbos.
Die beplande skool se doelwit is om die groeiende Afrikaanse gemeenskap van die Mosselbaai-omgewing as groeipunt aan die Tuinroete, van 'n moedertaalskool van 'n hoë gehalte te voorsien.
FOTOGALERY: 'n Afrikaanse privaat skool by die Hartland Landgoed
Die opening van die skool word vir Januarie 2024 beplan. Daar sal aanvanklik voorsiening gemaak word vir die voorskoolse en grondslagfase van die laerskool vir leerders van gr. RRR tot gr. 3.
Die skool sal daarna jaarliks uitgebrei word met 'n graad tot graad sewe bereik word.
Hartland Akademie is 'n Christus-gesentreerde skool wat saam met die ouers die beste holistiese opvoeding vir leerders wil bied. Soos dit blyk uit die leuse van die skool, 'Wys die Weg', is dit hulle oortuiging dat elke kind in sy/haar unieke weg na volwassenheid begelei moet word.
Die skoolwapen met drie bane simboliseer die verskillende aspekte van die opvoeding: gees, siel, intellek, wil, emosies en liggaam.
"Ons wys leerders die weg, leer hulle die waarheid en berei hulle voor vir die toekoms. Hulle moet groei in hulle geloof, in hulle liefde vir mense en hulle moet 'n hoopvolle toekoms omarm," sê Muller van Loggerenberg, voorsitter van die Doxa Deo Opvoedkundige Trust.
Die akademie, sport en kultuur help kinders om te ontdek wie hulle is, skep ook geleenthede vir intellektuele groei, wakker kreatiwiteit aan en versterk hulle fisiese vermoëns." Die visie van Doxa Deo Opvoedkunde is om die volgende generasie van leiers te help ontwikkel en voor te berei vir die toekoms.
"Hulle doen dit by wyse van Christus-gesentreerde kwaliteitonderrig vir leerders van die voorskoolse fase tot by die hoërskool. Elke leerder het nodig om sy of haar volle potensiaal in Christus te ontdek en doelgerig in 'n veilige, liefdevolle omgewing na volwassenheid te groei. "Talentontwikkeling, leierskapontwikkeling en kwaliteit onderwysers is van uiterste belang vir die leerders."
"Skool moet nie net kennis kan indruk in 'n kind nie, skool moet kan uitbring wat reeds binne daardie kind is," het Van Loggerenberg tydens die loodsing gesê.
Christelik-gefundeerde grondslag
Die MOS-inisiatief en Doxa Deo Opvoedkunde het reeds verskeie suksesvolle modelle van onderrig op hulle kerfstok en tussen die twee organisasies spog hulle met jare se ondervinding in opvoedkunde. Die skool beplan om die volgende aan leerders te bied: uitstekende akademiese standaard, toekomsgerigte onderrig, talentontwikkeling deur sport, kultuur en sosiale deelname, leierskap ontwikkelingsprogramme, kwaliteitfasiliteite, onderwysers met 'n roeping om na kinders om te sien, hulle te leer en te ontwikkel.
Dit is alles op 'n Christelik-gefundeerde grondslag.
"Opvoedkunde, en spesifiek skole, vorm die ruggraat van enige gemeenskap," sê Roedolf van der Westhuizen, uitvoerende hoof van die MOS-Inisiatief.
"Die waardes en wêreldbeskouing van mense word in die vormingsjare van kinders neergelê. Ons is dus nou besig om die toekoms te vorm."
"Die drie belangrikste komponente van die skool is kwaliteit Afrikaanse onderrig, om die leerders toekomsgerig op te lei en wêreldklas fasiliteite vir die leerders te bied," het Van der Westhuizen tydens sy toespraak gesê.
Die MOS-inisiatief is 'n privaat maatskappy wat deur die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO) gestig is met die doel om 'n Afrikaanse skolenetwerk daar te stel om uitmuntende onderrig in Afrikaans te verseker en uit te bou.
Vir meer inligting besoek Hartland Akademie se webwerf: www.hartlandakademie.co.za
VIDEO - Nuwe privaatskool in Hartenbos op die tuinroete (Video: Jannie du Plessis, Mossel Bay Advertiser).
André le Roux (ontwikkelaar Hartland Estate), Roedolf van der Westhuizen (uitvoerende hoof van Die MOS Inisiatief) en Muller van Loggerenberg (voorsitter van die Doxa Deo Opvoedkundige Trust).
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'