Tien instansies in Oudtshoorn is gevra om spanne in te skryf vir 'n ribbraai-kompetisie.
Elke braaispan is bygestaan deur 'n inwoner van Eljada. Manie, wat by die Oudtshoorn Courant se span was het sy werk ernstig opgeneem en die wors en ribbetjie mag eers van die rooster verwyder word nadat hy tevrede was met die gaarheid.
Eljada se talentvolle musikant Jannie het gesorg vir op en wakker kitaarmusiek wat nog 'n inwoner Gerrie se voete so laat jeuk het dat hy meer gedans as gebraai het. Na afloop van die braai is die tien Eljada-manne genooi vir 'n aansit-ete wat deur personeel voorgesit is. Volgens Arno Greyling, eienaar van Oudtshoorn Nissan, het die dag nie gegaan oor geld of verkope nie. "Vandag was net ons manier om vir Eljada te wys ons gee vir hulle om en hulle is deel van ons gemeenskap."

Nissan se verkoopsbestuurder, Hannie Neethling, maak seker dat die spannetjie van Eljada genoeg te ete kry tydens Saterdag se braaidag ten bate van Eljada.
FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR