Lumenrock, wat tans takke landwyd en op twee plekke in die buiteland het, het kliënte en spesiale gaste genooi om die eeufeesvieringe by die CP Nel-museum met hulle te deel. Die akteur, Hykie Berg, was die gasspreker.
James Acker het die oorspronklike boekhouers-praktyk in 1914 hier in Oudtshoorn begin. Lumenrock se eeufeesvieringe is verlede Woensdag 8 Oktober gehou, want dit is presies 'n 100 jaar nadat Acker op 8 Oktober 1914 sy besigheid se eerste deposito by Standard Bank gemaak het.
Hy en sy seun Jimmy, het vir dekades onder die naam Acker en Seun diens gelewer.
In 1964 het Pieter van Reenen by die kantoor aangesluit en hy het Woensdagaand interessante staaltjies vertel van die wyse waarop destyds besigheid gedoen is.
In 1996 het Francois J Slabber die onderneming by Van Reenen oorgeneem en BMS (Barnardt, Minnie, Slabber) gestig. Die besigheid brei uit en verander in 2010 na KSE en Genote wat in 2011 as Lumenrock Accounts and Consultants geregistreer word.
Dirk du Toit, Niekie Eksteen, Johan Duvenhage, Isabel Duvenhage, Ma-rita Serfontein en Lezelma Pretorius was van die gaste by Lumenrock se eeufeesvieringe.
Die bekende akteur Hykie Berg by Lumenrock direkteure, Cobus Coetzee, Ignus Kempen en Pieter Esterhuizen.
ARTIKEL EN FOTO'S: HANNES VISSER, OUDTSHOORN COURANT-REDAKTEUR
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'