Advertorial
OUDTSHOORN NUUS - Laerskool Wesbank is een van slegs vier skole in die Wes-Kaap wat deur die provinsiale minister van onderwys vereer is vir uitnemendheid in wiskunde.
Minister Debbie Schäfer het die toekenning tydens 'n glansgeleentheid in Kaapstad aan die skool oorhandig.
Volgens Waldo Cloete, skoolhoof van Wesbank, is die toekenning gegee op grond van die skool se wiskunde prestasie in die sistemiese evaluering van gr. 3- en gr. 6-leerders oor drie jaar (2015 tot 2017). Wesbank is die enigste laerskool in die hele Eden en Sentrale-Karoostreek wat een van die vier toekennings ontvang het.
Onder top-20 skole vir akademie
Terwyl Cloete baie trots is op die wiskunde toekenning kan hy en die personeel hul bors verder uitstoot nadat die skool pas ook kennis ontvang het dat hulle een van die top-20 van 810 Wes-Kaapse laerskole ten opsigte van akademiese prestasie is.
Die skole word op grond van akademiese prestasie van gr. 1 tot gr. 7 geëvalueer. Wesbank is dan ook die enigste laerskool in die Eden en Sentrale-Karoostreek wat onder die top-20 skole is.
Tydens die toekenningsaand in Kaapstad is, van links: Brian Schreuder (hoof van onderwys: Wes-Kaap), Adele Engelbrecht (grondslagfase departementshoof by Wesbank), Sureka Wallace (senior primêre departementshoof), Waldo Cloete (skoolhoof) en Debbie Schafer (Wes-Kaapse minister van onderwys).
Cloete het Maandag gesê die skool se prestasie is te danke aan toegewyde onderwysers, goeie opvoedingstrukture en die gebruik van moderne tegnologie in die klaskamer. Elke leerder in die skool het Dinsdag 'n roomys ontvang om die prestasie te vier.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'