OUDTSHOORN SAKE NUUS - Die maandelikse netwerkaand van die Oudtshoorn besigheidskamer is verlede Donderdagaand met meer as 80 gaste aangebied. Die netwerkaand is deur die Oudtshoorn Courant geborg en by die Klein Karoo Ostrich Emporium in Rademeyerstraat gehou. Vier nuwe lede wat hierdie maand by die besigheidskamer aangesluit het, is ook voorgestel.
Drie van die nuwe lede was teenwoordig om hulle sertifikate te ontvang. Hulle was: High Way Bande, Klein Karoo Motors en Dryland Event Management. Die vierde nuwe lid is Kansa.
Met die vier nuwe lede het die besigheidskamer tans 141 lede. Gideon Badenhorst, voorsitter van die besigheidskamer, het Donderdagaand gesê die groei van die besigheidskamer wys dat sakeondernemings toenemend die positiewe bydrae van die besigheidskamer besef.
"Al hoe meer besighede besef dat die besigheidskamer nie bloot 'n vereniging is wat maandeliks vergader nie, maar 'n organisasie is wat daadwerklik tot besighede in Oudtshoorn bydra en die ekonomie van die dorp bou."
Lizanne Schraader, een van twee verkoopsbestuurders van Group Editors, was die gasspreker by die netwerkaand. Sy het die geleentheid gebruik om die verskillende bemarkingsgeleenthede in die Oudtshoorn Courant en die nege susterspublikasies uit te lig. "Die mediaplatforms ontwikkel baie vinnig en dit wat byvoorbeeld drie jaar gelede tydens 'n netwerkaand met besighede gedeel is, het intussen weer verander. 'n Groot deel van ons bemarkingstrategie is om deeglik bewus te wees van die veranderinge sodat adverteerders die beste blootstelling op die verskillende platforms kan kry."
Meer as 80 gaste het kaartjies bespreek vir Donderdagaand se netwerkaand wat deur die Oudtshoorn Courant geborg is. Foto: Liezl van Niekerk.
Die Oudtshoorn Courant is een van tien publikasies wat weekliks deur Group Editors versprei word. Die ander nege is die Knysna-Plett Herald, Suid-Kaap Forum, Graaff-Reinet Advertiser, Mossel Bay Advertiser, George Herald, Idinga, Mossel Bay Home Ads News, Private Property en Autodealer.
Daar word elke week meer as 60 000 koerante, wat al tien publikasies insluit, by Group Editors se drukkers in George gedruk. Die ses hoof koerante bereik meer as 220 000 lesers in die streek. Ses van die koerante het hul eie webtuistes wat gesamentlik elke maand meer as 350 000 gebruikers met meer as 1,1 miljoen bladbesoeke (page views) kry.
Schraader het 'n kort opsomming gegee van die verskillende opsies wat adverteerders kan gebruik om binne hulle vermoë die maksimum blootstelling in die gedrukte sowel as digitale media te kry.
Sy het ook voorbeelde aangehaal van besighede wat met groot sukses van die onderskeie bemarkingspakette gebruik maak.
Vir meer inligting oor die wye reeks pakkette wat adverteerders kan gebruik skakel Brende Brits of Letitia de Lange van die Oudtshoorn Courant by 044 272 8918.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'