Advertorial
OUDTSHOORN NUUS - Jy sal op jou rug val as jy by Oudtshoorn Steel & Pipes instap en net 'n paar staalplate en -pype opgestapel op 'n paar rakke verwag. Jy gaan verbaas wees en beslis met 'n huppel in jou stap daar uitwals, want hulle bied vele meer.
Moenie dat die doodgewone gebou, een van vele in Jacobsonstraat met dieselfde tipe vooraansig, jou flous nie.
Oudtshoorn Steel & Pipes bied vir die kieskeurige koper 'n groot en interessante verskeidenheid gereedskap, vlekvrye staal- en aluminiumprodukte en dakplate en harde- en ysterware soos skroewe, moere, boorpunte, waterpasse en maatbande.
Vir die man wat uit sy motorhuis werk, enige nutsman, faktotum, allesdoener of groot installeerders, hier sal jy alles onder een dak vind.
As jy vinnig 'n afdak wil aanbring, is Oudtshoorn Steel & Pipes die plek om by aan te doen.
Jacques Viljoen is al die afgelope twee jaar die eienaar van die besigheid. Hy het drie voltydse personeellede om hom by te staan, almal kundiges wat enige voornemende koper met professionele raad kan bystaan.
Jacques sê die besigheid se sukses rus op drie pilare: goeie voorraad, puik diens en die beste pryse in die Klein-Karoo.
"Ons het altyd voorraad, maar sou iets kort sal ons dit binne 'n ommesientjie kan aanvul. Ek en my mense roem ons daarop om kwaliteitdiens te lewer. Dis ononderhandelbaar. En jy sal ver moet gaan soek om ons pryse te klop."
Jacques sê bestellings word binne die bestek van twee dae afgelewer. Afgesien van Oudtshoorn, lewer hulle af in Ladismith, Dysselsdorp, De Rust en Calitzdorp.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'